Voëls van eenderse vere …

Die studie en uitbeelding van voëls hou die mensdom al eeue-lank en in alle kontinente en kulture besig. Voëls is waargeneem, geteken, versamel, ingehok, oopgesny en gepreserveer deur visuele kunstenaars, wetenskaplikes, skrywers, voëlkundiges en musici. Hulle het musiek, stories en mites inspireer en hulle het as skakels met en simbole van ander wêrelde gedien.

Wat is dit was ons so fassineer? Voëls bestaan in 'n sigbare wêreld, in die natuur, terwyl hulle ook 'n oneindige domein beset. Hulle is werklik en efemeer - hulle bied 'n fees van kleur en vorm maar kan so vinnig voor ons oë verdwyn as wat hulle verskyn. Ons verwonder ons aan hul ingewikkelde bouwerk en hul verhewe hofmakery. Vir ons aardsgebondenes is voëls vry soos die lug, onbeperk in hul bewegings. Sedert geskiedenis begin skryf is, is daar figure en kreature met vlerke en pogings om soos voëls te vlieg. Sonder voëls en voëlsang is die lug bewegingloos en stom. Hulle tempteer en bevredig ons sinne; hul vere versier ons liggame en ons omgewings en verleen betekenis en glorie aan rituele en godsdiens. Hulle bly geheimsinnig en enigmaties en vul ons drome, en tog kan hulle die geesteswêreld konkretiseer; in sommige kulture is hulle heilige boodskappers van die menslike siel en die menslike noodlot.

Die titel van die tentoonstelling "Voëls van eenderse vere …" is 'n metafoor vir, en viering van, die samekoms van die ontsaglike en ryk versamelings wat nou Iziko Museums van Kaapstad uitmaak. Die tentoonstelling verken die wêreld van voëls vanaf die oertyd tot vandag en dit voeg, soos Iziko, die natuur en kultuur saam. Besoekers sal uitgesogte natuurverskynsels raakloop, asook buitengewone artefakte deur mensehande gemaak, en sal uitgedaag en gestimuleer word om die wetenskap en kuns beter en anders te verstaan. Die archaeopteryx neem ons terug na 'n tydperk voor die mens bestaan het; die gebeendere van die uitgestorwe Dodo herinner ons van die groot verskeidenheid voëlsoorte wat daar eens was (sowat 8,600), en hoe ons as mense die natuur, biodiversiteit en die ekologie bedreig. Metodes en uitstallings wat deur museums bedryf word, kom onder die kollig. Die tentoonstelling vertel ook die verhaal van hoe kunstenaars besiel is om voëls te gebruik en uit te beeld - van wetenskaplike illustrasies en realistiese skilderye tot voëlagtige versinnebeeldings; van politieke kommentaar en ekspressionistiese interpretasies tot surrealistiese projeksies van drome en begeertes.

In die atrium vind besoekers regte, lewendige voëls om die tentoonstelling af te rond - uile wat goedgunstiglik deur The World of Birds beskikbaar gemaak is en in 'n habitat geskep deur die Openbare Werke Departement.

Die materiaal wat met voëls verwant is, is afkomstig uit die volgende museums: Michaelis Versameling, Suid-Afrikaanse Nasionale Kultuurhistoriese Museum, Die Suid-Afrikaanse Museum en die Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum. Die projek het ons ook in staat gestel om objekte uit die bergplekke te haal wat selde, of ooit, deur die publiek gesien word. 'n Aantal boeiende en belangrike stukke kon nie uit die museums verwyder word nie en ons raai besoekers aan om nog voël-skatte in die ander museums van Iziko Museums van Kaapstad te gaan besigtig.

Jill Joubert, van die Frank Joubert Sentrum vir Kuns en Ontwerp, lei 'n opwindende opvoedkundeprogram en kreatiewe projek. Kunswerke wat deur leerlinge gemaak word sal vanaf 8 Desember in die Annexe-Galery ten toon gestel word.

Marilyn Martin
Kurator